R//t1 is ’n parallelkombinasie van Rst1 en R4. Die stroom sal dus tussen die twee takke verdeel. Ons het reeds vasgestel dat die stroom deur R4 = 0,5 A. Die totale stroom wat na die parallelkombinasie vloei is 1 A. Dus is die res van die stroom deur
Rstl = 0,5 A.
Jy kan nou sien dat aangesien die waardes van Rst1 en R4 dieselfde is, die stroom gelykop sal verdeel.
Rst1 was ’n seriebaan bestaande uit R2 en R3. Aangesien dit ’n seriestroombaan is, is Ist1 = I2 = I3 = 0,5 A. V2 = I2 × R2 = 0,5 × 8 = 4 V
en
V3 = I3 × R3 = 0,5 × 4 = 2 V
Drywing
Drywing kan beskryf word as die vermoë van ’n elektriese masjien om werk te verrig as gevolg van die spanning wat aangewend word en die vloei van ’n elektriese stroom deur die masjien. So ’n masjien omskep die elektriese energie in ’n ander soort energie soos hitte, lig of beweging. Die simbool vir drywing is (P) en die eenheid van drywing is watt (W). Die watt word gewoonlik gebruik om die omvang van ’n las aan te dui – ’n gloeilamp word byvoorbeeld aangeslaan as 40 W, 60 W of 100 W ens. Weerstande word aangeslaan as ¼ W, ½ W of 1 W ens.; stofsuiers word aangeslaan as 600 W, 800 W, 1 200 W, ens.
As watt-lesings te hoog word, kan ons dit meer gerieflik op verkorte wyse skryf: 1 000 W = 1 kW, of 1 000 000 = 1megawatt = 1 MW. Wanneer watt-lesings weer te laag word, kan ons dit ook meer gerieflik verkort na: 0,001 W = 1 milliwatt = 1 mW.
Die krag wat deur ’n toestel verbruik word, kan bereken word as die produk van die spanning en die stroom
P = V × I waar P = Die krag wat verbruik word V = Spanning wat op die toestel toegepas word I = Elektriese stroom wat deur die toestel vloei.