Selfs 140 jaar nadat dit uitgevind is, word die lood-suurbattery nog steeds verbeter, en ondanks sy tekortkomings en die mededinging van nuwer selchemie, hou hy nog steeds die leeue-aandeel van die hoëkrag-batterymark.
Voordele • Lae koste • Betroubaarheid – meer as 140 jaar se ontwikkeling • Robuus – bestand teen rowwe hantering • Bestand teen oorlading • Lae interne impedansie • Kan baie hoë stroom lewer • Onbeperkte raklewe as dit sonder elektroliet gestoor word • Kan vir lang tye op sypel- of vlottende laai gelos word • Groot verskeidenheid groottes en kapasiteite beskikbaar • Talle verskaffers wêreldwyd • Die wêreld se mees herwonne produk.
Nadele • Baie swaar en groot • Kan oorverhit tydens laai • Nie geskik vir vinnig laai nie • Tipiese leeſtyd is 300 tot 500 siklusse • Moet in gelaaide toestand gestoor word as die elektroliet eers ingesit is om agteruitgang van die aktiewe chemikalieë te voorkom.
Toepassings • Voertuig- en aandrywingstoepassings • Bystand-/rugsteun-/noodkrag vir elektriese installasies • Duikbote • "UPS" (ononderbreekbare kragbronne) • Verligting • Toepassings wat hoë stroom trek.
Verseëlde lood-suurbattery Hierdie bouwyse is ontwerp om verlies van elektroliet deur verdamping, storting en gasvorming te voorkom; dit verleng die batterylewe en vergemaklik instandhouding. Verseëlde batterye het drukkleppe wat slegs onder uiterste toestande oopmaak in plaas van die gebruiklike eenvoudige ontlugtingsdoppies op die selle.
Diepsiklusbatterye Mariene toepassings, gholfarretjies, vurkhysers en elektriese voertuie gebruik diepsiklusbatterye. Hierdie batterye is gebou om heeltemal te ontlaai voordat hulle herlaai word. Omdat laai oormatige verhitting meebring wat die plate kan buig, word dikker of soliede plaatroosters vir diep siklusse gebruik. Normale motorbatterye is nie vir herhaalde diep siklusse geskik nie en het dunner plate, met ’n groter oppervlakte, wat die vermoë om hoër strome te lewer, verhoog.
Figuur 4.4: Diepsiklusbattery
Motorbatterye sal gewoonlik na 30 – 15 diep siklusse ingee, maar kan duisende gewone aansitsiklusse oorleef (2 – 5% ontlading). As batterye wat vir diep siklusse ontwerp is vir motorvoertuie gebruik word, moet hulle sowat 20% groter gebou word om vir die laer stroomdravermoë te vergoed.