Inleiding Wanneer hulle dink oor kommunikasie, sal die meeste mense dit vereenselwig met moderne tipes tegnologie, maar streng gesproke sal kommunikasie ook primitiewe of oeroue tipes kommunikasie insluit. Hieronder tel rookseine ook as ’n soort kommunikasie. Ander soorte vroeë telekommunikasie sluit seinvure of bakens in. Seinvure is meesal vir oorlogvoering benut, en daarvoor moes mense op ’n reeks heuwels geplaas word om vure aan te steek, met die eerste man naaste aan enige verwagte troepebewegings.
Namate die moderne samelewing die elektroniese era betree het, was daar ook ’n revolusionêre verandering in die wyse waarop kommunikasie plaasgevind het. Moderne kommunikasie is die senustelsel wat ons samelewing saambind en ons wêreld in ’n globale dorpie verander. Kommunikasie het ’n ontsaglike impak op die terrein van die handel, vermaaklikheid, verdediging, geneeskunde en selfs die verkenning van die ruimte gehad. Deesdae dink ons niks daarvan om oombliklik oor duisende kilometer te kommunikeer, sake te doen en inligting in te win teen die spoed van lig nie. Dink maar aan ’n kommunikasiestelsel soos e-pos, waardeur jy met mense oral op aarde kan kontak maak. Die telefoon is ’n ander manier om in verbinding te bly met familie en vriende dwarsoor die wêreld. En ons kan dit op talle maniere doen – digitaal, met spraak, faks of selfs per video.
Elektroniese kommunikasie behels die versending van seine, skrif, klank, data of inligting van enige aard, gedeeltelik of in geheel, deur middel van ’n draad, radio, elektromagnetiese, foto-elektroniese of foto-optiese stelsel. Die doel van hierdie hoofstuk is om jou ’n beter begrip van eenvoudige elektroniese kommunikasiestelsels te gee.
Kommunikasietipe
Kommunikasiedienste kan in twee groepe verdeel word: • Eenrigting-uitsendings soos FM en AM radio, TV en kortgolf • Tweerigting-dienste soos private selfone, openbare veiligheidsdienste, kommunikasie deur nywerhede en besighede en persoonlike kommunikasie.
Seinlamp
Die seinlamp, of Aldislamp, is ’n visuele seintoestel vir optiese kommunikasie (Morsekode word gewoonlik gebruik) – basies ’n gefokusde lamp wat ’n ligpuls kan stuur. Dit is na die uitvinder, Arthur CW Aldis, vernoem. Hierdie puls word gemaak deur blinders wat voor in die lamp gemonteer is, oop en toe te maak deur middel van ’n handbediende drukskakelaar of, in later modelle, outomaties. Die lampe is gewoonlik met die een of ander vorm van optiese visier toegerus en is algemeen op vlootskepe en in vlugbeheertorings gebruik.