Elektriese Tegnologie Daar is basies drie vorms van RF- (radiofrekwensie-) voortplanting:
Bodemgolf-propagering Bodemgolwe volg gewoonlik die kromming van die aarde. Bodemgolfpropagering van radiosein is ideaal vir relatief kortafstand-propagering op hierdie frekwensies gedurende die dag. As gevolg hiervan moet radiostasies staatmaak op bodemgolwe om hulle vereiste dekking te bereik. ’n Bodemgolfradiosein bestaan uit ’n aantal komponente. As die lugdrade op die siglyn lê, sal daar ’n direkte golf sowel as ’n weerkaatste sein wees. Soos die naam aandui, is die direkte sein een wat direk tussen twee lugdrade beweeg en nie deur ligging beïnvloed word nie. Daar sal ook ’n weerkaatste sein wees, omdat die sending deur ’n aantal voorwerpe weerkaats sal word, waaronder die aardoppervlak en enige heuwels of groot geboue wat teenwoordig mag wees.
Dan is daar nog die oppervlakgolf. Die oppervlakgolf neig om die ronding van die aarde te volg, wat dekking tot anderkant die horison moontlik maak. Dit is die som van al hierdie komponente wat as die bodemgolf bekend staan. Agter die horison word die direkte en weerkaatste golwe deur die kromming van die aarde geblokkeer en die sein bestaan dan slegs uit die gediffrakteerde oppervlakgolf. Om hierdie rede word oppervlakgolf-voortplanting ook dikwels bodemgolf- propagering genoem. Oppervlakgolwe is normaalweg gepolariseerde seine wat in alle rigtings vanaf ’n omnidireksionele lugdraad beweeg en is gewoonlik sterk genoeg om tussen 50 en 100 km daarvandaan opgevang te word.
Luggolwe (ionosferiese propagering) Golwe wat lugwaarts beweeg word omgedraai (gereflekteer) terug aarde toe deur die ionosfeer omdat hulle onder ’n kritieke frekwensie is (sowat 30 MHz), en staan bekend as luggolwe. Luggolf- (ionosferiese) propagering is onmoontlik gedurende die dag weens die uitdunning van seine in hierdie frekwensies deur die D-streek in die ionosfeer (die laagste streek van die ionosfeer). Omdat luggolfpropagering van die aarde se ionosfeer afang, verander dit saam met die weer en tyd van die dag. Luggolwe maak egter langafstanduitsendings van tot ’n paar honderd kilometer moontlik.
Radio-amateurs maak gereeld gebruik van hierdie luggolf-opwekking op hulle bepaalde frekwensies in die medium- tot hoëfrekwensiespektrum. Seevaarders doen dit ook – hulle kies hulle bande versigtig om hulle seine terug te kaats na die land en so in voeling te bly deur middel van hulle mobiele seestasies wat honderde of duisende myl ver kan wees.
Siglyn-propagering (LOS) Dit verwys na elektromagnetiese straling of elektro-magnetiese golwe wat in ’n reguit lyn beweeg. Die golwe word gedeflekteer of weerkaats deur obstruksies en kan nie oor die horison of agter obstruksies beweeg nie. Enige hindernis tussen die uitsaailugdraad en die onvangslugdraad sal die sien blokkeer, net soos die oog net in ’n reguit lyn kan sien. Omdat dit rofweg moontlik is om die uitsaailugdraad te sien wat die soort radiosein uitstuur wat net op die manier ontvang kan word, word die voortplanting van die soort hoë frekwensies “siglyn” genoem.
In die praktyk wissel die voortplantingsvermoëns van hierdie radiogolwe aansienlik na gelang van die presiese frekwensie en sterkte van die uitgesaaide sein (wat ’n funksie van beide die sender en die lugdraad se eienskappe is). FM radioseine teen die betreklik lae frekwensies van omtrent 100 MHz en met baie kragtige senders kan egter maklik deur geboue en bosse dring.